Wladimir Poetin

Wladimir Poetin
Владимир Путин
Wladimir Poetin
Wladimir Poetin in 2022

4de president van Rusland
Ampsbekleër
Termynaanvang
7 Mei 2012
Voorafgegaan deur Dmitri Medwedef

10de premier van Rusland
Ampstermyn
8 Mei 2008 – 7 Mei 2012
Vise Igor Sjoewalof
Voorafgegaan deur Wiktor Zoebkof
Opgevolg deur Dmitri Medwedef

2de president van Rusland
Ampstermyn
7 Mei 2000 – 7 Mei 2008
Voorafgegaan deur Boris Jeltsin
Opgevolg deur Dmitri Medwedef

6de premier van Rusland
Ampstermyn
9 Augustus 1999 – 7 Mei 2000
Vise Wiktor Christenko
Michail Kasjanof
Voorafgegaan deur Sergei Stepasjin
Opgevolg deur Michail Kasjanof

Persoonlike besonderhede
Gebore 7 Oktober 1952 (1952-10-07)
Leningrad, Sowjetunie (nou Rusland)
Politieke party Verenigde Rusland
Eggenoot/-note Ljoedmila Aleksandrowna Sjkrebnewa
Kind(ers) Jekaterina (Katja, 1985)

Maria (1986)

Alma mater Staatsuniversiteit van Leningrad
Religie Russies-Ortodoks
Handtekening

Wladimir Wladimirowitsj Poetin (Russies: Влади́мир Влади́мирович Пу́тин; gebore 7 Oktober 1952) is ’n Russiese politikus. Hy was van 2000 tot 2008 die tweede president van Rusland en daarna vier jaar lank eerste minister onder Dmitri Medwedef. Met die presidentsverkiesing van 4 Maart 2012 is hy weer verkies tot president vir 'n verlengde termyn van ses jaar.[1][2] Hy is op 7 Mei as president beëdig.

Hy het op 31 Desember 1999 waarnemende president geword nadat Boris Jeltsin die amp neergelê het. In 2000 het hy die presidentsverkiesing gewen en in 2004 is hy vir ’n tweede termyn herkies tot 7 Mei 2008. Hy kon volgens die Russiese grondwet nie vir ’n derde agtereenvolgende termyn herkies word nie. Poetin was tydens sy termyn as premier ook voorsitter van Verenigde Rusland, ’n party wat 70% van die setels in die Staatsdoema (laerhuis) het.

Poetin het in Januarie 2018 'n besoek aan die St. Niloes Stolobenski- (Nilof)-klooster op die eiland Stolobni in die Seligermeer (Twer-oblast) gebring. Die besoek is afgerond met 'n klein ysbad.

In September 2011, nadat die wet verander is om die presidensiële termyn van vier na ses jaar te verleng,[3] het Poetin aangekondig hy sou hom vir nog ’n termyn verkiesbaar stel in die Russiese presidentsverkiesing van 2012. Dit het gelei tot grootskaalse protesoptogte in baie Russiese stede. Hy het die verkiesing in Maart 2012 gewen en dien tans ’n termyn van ses jaar uit.[4][2]

Poetin het sedert 2000 weer politieke stabiliteit en ekonomiese vooruitgang gebring en die krisis van die 1990's onder Jeltsin se bewind beëindig."[5][6] Nadat hy president geword het, het die Russiese ekonomie nege jaar agtereenvolgens gegroei,[7] armoede is met meer as 50 persent verminder en die gemiddelde maandelikse salaris van burgers het van $80 tot $640 gestyg.[8] Hy het Rusland ook gevestig as ’n energie-supermoondheid.[9][10]

Poetin se bewind word deur baie Westerse waarnemers as ondemokraties beskou,[11] veral weens sy onderdrukking van persvryheid en sy hardhandige optrede teen betogers en teenstanders van die regeringsbeleid. In 2014 is Rusland uitgesluit uit die G8-groep weens die land se anneksasie van die Krim.[12] In Rusland is hy egter baie gewild omdat hy stabiliteit en welvaart gebring het. Dit is onder meer weerspieël deur die feit dat sy gewildheid sedert einde 1999 tot aan die einde van sy tweede ampstermyn nooit laer as 50% gedaal het nie en in Junie 2007 selfs tot 81% gestyg het, volgens ’n meningspeiling deur die Lewada-sentrum in Rusland.[13] Hy was ook die tydskrif Time se Persoon van die Jaar vir 2007.

In die media projekteer Poetin van homself dikwels die beeld van ’n sportiewe, sterk manlike karakter en buitelugmens wat sy politieke selfbeeld as sterk leier (wat ook die fisiese energie het om in diens van sy land hard te werk) versinnebeeld. Hy vertoon dikwels sy fisieke vermoëns en neem deel aan ongewone of gevaarlike bedrywighede soos ekstreme sport.[14] Hy is ’n groot aanhanger van die vegkunste en was in sy jong dae verskeie kere die kampioen van Leningrad in judo en sambo. Hy het ook ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van sport in Rusland, veral om Sotsji te help om die bod vir die Olimpiese Winterspele 2014 te wen.

Nogtans het sy tyd as medewerker van die Sowjet-Russiese geheimediens KGB hom geleer om andersins 'n lae profiel te handhaaf; so word hy dikwels as "gesiglose man" beskryf. Russiese oligarge, wat hul luukse leefstyl ál te duidelik in die openbaar vertoon het, is deur Poetin openlik in die media of in privaat gesprekke gewaarsku en aangeraai om hul president se voorbeeld te volg.

  1. Putin Hails Vote Victory, Opponents Cry Foul RIAN
  2. 2,0 2,1 "Elections in Russia: World Awaits for Putin to Reclaim the Kremlin" (in Engels). The World Reporter. Maart 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 31 Maart 2012.
  3. Vasilyeva, Natallya. "Putin claims to support term limits as he readies to take helm for 3rd time" Geargiveer 28 Augustus 2014 op Wayback Machine, China Post (12 April 2012)
  4. "Putin Hails Vote Victory, Opponents Cry Foul" (in Engels). RIA Novosti. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Julie 2013. Besoek op 22 Junie 2013.
  5. "In China, Confucius Prize Awarded to Putin" (in Engels). New York Times. 15 November 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Julie 2019. Besoek op 15 November 2011.
  6. Krone-Schmalz, Gabriele (2008). "Der Präsident". Was passiert in Russland? (in Duits) (4 uitg.). München: F.A. Herbig. ISBN 978-3-7766-2525-7.
  7. of Russia from 1992 to 2007 Internasionale Monetêre Fonds, URL besoek op 12 Mei 2008
  8. "Russia average monthly accrued wages of employees" (in Viëtnamees). Russiese Federale Staatstatistiekdiens. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Februarie 2019.
  9. Russia, China in Deal On Refinery, Not Gas deur Jacob Gronholt-Pedersen. Wall Street Journal, 22 September 2010
  10. Did A New Pipeline Just Make Russia The Most Important Energy Superpower By Far deur Graham Winfrey. Business Insider, 6 Januarie 2010
  11. Treisman, D. "Is Russia's Experiment with Democracy Over?" (in Engels). UCLA International Institute. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 April 2020. Besoek op 31 Desember 2007.
  12. U.S., other powers kick Russia out of G8, CNN
  13. Индексы Geargiveer 6 Maart 2012 op Wayback Machine levada.ru
  14. Putin Bolsters Tough Guy Image With Shirtless Photos. Abcnews.go.com (2009-08-05). URL besoek op 2012-03-09.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search